Download your FREE digital Camp and Live Guide or Kamp en Leef Gids here!
close [X]

Ounooi

Category: General News | Author: Dewald van der Merwe |  Date posted:  | Impressions: 19592   2916

Jare gelede, 1966 tot 1970, in Oos Londen het ons as Frankfortse Vrystatertjies, langs die see gebly, gewerk, gekamp en vis gevang. Ons tent was ons 1967 Toyota Corona bakkie se bak met 'n seil oor wat ons by SA Canvas gekoop en self met tuinharkstele pas gemaak het. 'n Groen boomslang het ons so laat skrik terwyl ons een aand 'n vleisie oor die kole staan en braai dat ons daar en dan besluit het om maar liewers te begin kyk na 'n karavaan. Jurgens was te duur en ons het ons verbeel ook te swaar. Die uiteinde was 'n tweedehandse Sprite Alpine met gaslampe en gasyskassie. Toe kamp ons in "style". Die Alpine is later verkoop en vervang met 'n klomp tweedehandse Gypsey's en Sprite's. later was dit 'n "Exclusive" met wiele vir afrika. Toe 'n nuwe Sprite Surfer met die badkamertjie want die vierwiel Exclusive het my moeg gemaak. Die laaste was die lekkerste wa,'n Sprite Swift. Hy's so in 2009 verkoop en ons kuier toe net in "style" met vakansiepunte en in gastehuise tot so einde laas jaar. 'n Vriend van my maak ou karre bymekaar en spog erg daarmee.(veral die hoeveelheid) Behalwe vir my vroutjie en my hond Fly, vir wie ek lief is, het ek agtergekom dat daar 'n ernstige tekort in my mondering is. Ou karre werk nie vir my nie. Jy kan hulle net met 'n gesukkel gery kry. Hulle lek olie, staan en stink en jy kry nie parte nie, en... en... en .... Toe besef ek, dit is 'n karavaan! Jy hoef nie baie te hê nie. Net een vir wie jy lief kan word. Jurgens se "60 Years of caravanning in South Africa" kom op 4 April 2014 te voorskyn en loop lê op ons koffietafel. Daar sien ek wat kort ek voor my oudag hier is. 'n Jurgens Standaard Karavaan Nr. 1, so oorspronklik as moontlik. "Verken die aanloklike vertes . . . met 'n Jurgens Reiswa" Binne in is daar 'n tafel met 'n padkaart van Suidelike Afrika. As ek hom kry .......... haar naam gaan "Ounooi" wees. En ek het hom gekry! Word vervolg.

Dewald van der Merwe

Latest News